top of page

'n Verjaarsdag vol eerstes

  • Writer: Lelanie Jordaan
    Lelanie Jordaan
  • Apr 21, 2020
  • 3 min read

My eerste verjaarsdag in die vreemde.

My eerste verjaarsdag as 'n getroude vrou.

My eerste verjaarsdag waar die heel enigste manier hoe ek enige van my familie of vriende kan sien, deur 'n foon of rekenaar skerm is.

Die eerste verjaarsdag waar almal wat ek lief het (behalwe natuurlik my liefling man) vir die grootste gedeelte van die dag slaap.


Dit is 'n eensame dag. Manlief is by die werk. Ek sukkel nog om te registreer by die sielkunde raad alhoewel ek probeer om ander tydelike werk kry om my besig te hou, en ek het selfs nuwe stokperdjies aangepak vir bietjie afleiding. Ten spyte van als wat ek probeer, voel ek net vandag die eensaamheid in golwe, groot oorweldigende golwe. Ek voel nie so optimisties soos gewoonlik nie. Ek het nog nie vriende in NZ gemaak wat my so spesiaal kan laat voel soos my kosbare SA mensies nie. Ek het nog nie 'n gunsteling kuier plek of restaurant waar ek myself kan bederf met my gunsteling drankie of ete nie. Daar is nog geen plekke of mense wat ek assosieer met 'verjaarsdag' nie. Die draf roete wat ek die afgelope week draf voel nog nie bekend en gemaklik nie en ek is nog nie vertroud met die bus roetes nie.


Gewoonlik is my verjaarsdag 'n nostalgiese ervaring met tradisies en rituele wat sorgvuldig oor die jare in plek gesit is. 'n Tydperk wat ek ernstig nadink oor my lewe, 'n tyd wat ek ou memories saam my mense kan onthou, daardie onthou jy nog toe… of mamma het altyd… oomblikke. Nog altyd het ek seker gemaak dat dit 'n groot geleentheid is. Ek, my ma en my sussie sou die aand voor my verjaarsdag elkeen 'n koek of iets lekker bak, ter voorbereiding, die hele familie sou oor die naweek kom koek-en-tee, of bring-en-braai, ons sou gewoonlik as gesin gaan uiteet. Elke verjaarsdag wat ek by die huis was sou die hele gesin my wakker sing met koffie, ietsie lekker, en natuurlik persentjies. Vandag sou ek hulle net graag wou oornooi vir koffie.


Ek mis die samesyn en ek weet hierdie is net die begin, my pa se verjaarsdag lê nog voor, Paasnaweek, Moedersdag en Vadersdag kom al hoe nader, later is dit Kersfees, en 'n leë holte vorm in my maag, ’n knop kom sit in my keel. ’n Pyn, 'n fisieke, hartverskeurende pyn skiet deur my binnegoed.


Dan voel ek die nabyheid van Jesus en ek weet wat ek met hierdie verjaarsdag moet doen. Ek moet die Here loof en prys, want ek sal Hom bly prys ten spyte van my omstandighede. Hy het my nog 'n jaar gespaar, Hy het wonderwerke in hierdie jaar laat geskied, Hy het my beskerm, my gelei en my in oorvloed geseën. Ek sit my gunsteling worship liedjie aan, ek staan op my knieë en ek sing. Ek prys Hom nie net wanneer ek vol vreugde is nie maar ek prys Hom ook om Sy vreugde te ondervind en te behou. Want ek is so geseënd en bevoorreg om Hom te ken en deur Hom geken te wees. Die Hemelse Vader, die Almagtige, ken my persoonlik, sorg vir my, en Hy is nie vêr nie, Hy is nie net in Suid-Afrika nie, ek benodig nie 'n foon of 'n skerm om met Hom kontak te maak nie. Hy is hier, hy celebrate saam met my, Hy vind vreugde in my. Al wat ek nou kan doen is om vir die Vader denksegging te gee in die midde van my seer, om Hom te loof en prys al kan ek nie nou die groter prentjie sien nie, en om Sy naam groot te maak en Sy goedheid te besing selfs al lyn my begeertes nie op met die dinge in hierdie wêreld nie. God bly goed.


Diep binne in my begin ek besef, nou is ’n tyd om nuwe herinneringe te maak, om nuwe “onthou jy’s” te skep. My man het uit sy pad gegaan om dit vir my so spesiaal as moontlik te maak; persente en briefies, vonkelwyn, 'n pragtige sjokolade koek en klomp opwindende planne vir die naweek. Hy het selfs die hele gesin gekry om my wakker te sing, ons het daarna so lekker gesels en sommer 'n Skype afspraak gereël om later verder te vier. My moederlief het vir my 'n geskenkie, ’n kroon ring, al die pad van SA saam gestuur wat hy nog heeltyd vir my wegsteek. Liefde en omgee wat ek diep in my hart koester.


Ek is dankbaar. Ek is 29. Ek sien uit na hierdie jaar.




 
 
 

Comments


Subscribe Form

©2020 by Elders. Proudly created with Wix.com

bottom of page