My moskombersie
- Lelanie Jordaan
- May 12, 2020
- 3 min read
Updated: Jun 13, 2020

Queenstown het die ongelooflikste staproetes, maar gedurende die streng vlak 4 kwarantyn tydperk kon ek en Evert ongelukkig nie die bergagtige landskap verder verken nie. Ons het ons intussen gewend tot korter staproetes naby aan ons huisie, maar het met hope entoesiasme gewag vir die lockdown sluier om te lig. Die afgelope naweek kon ons vir die eerste keer in 'n lang tyd weer 'n ‘regte’ staproete aanpak en ons besluit toe op mount Crichton aan 'n kant van Queenstown wat ons nog glad nie ken nie.

Ons opgewondenheid kon op 'n myl bespeur word, die twee van ons het soos wafferse avonturiers op hulle eerste ekspedisie gevoel. Die rit na die begin punt toe, ongeveer 15 km uit die dorp uit, is asemrowend mooi en was opsigself 'n opwindende reistog.

Die staproete kronkel deur 'n digte bos, hoë inheemse bome bekleë met mos, immergroen varings en 'n kabbelende riviertjie wat jy telkemale met 'n houtbruggie oorkruis. Dis 'n interessante staproete, op een plek het myners jare terug 'n dun paadjie dwarsdeur die berg gekap en verder aan kom jy die mooiste ou kliphuisie tee, waar 'n ene Sam gewoon het gedurende dieselfde tydperk. Daar is 'n pragtige waterval, berge wat jou alkant omring en die mooiste, sprokiesagtige sampioene wat orals wegkruip, reg om ontdek te word.


Al het hierdie staproete in meer as een aspek fabelagtig gespog, is dit hierdie keer die grasgroen mos wat my betower het. Orals waar jy kyk lê dit weelderig soos fluweel oor die rotse en boomwortels. Dit lyk kraakvars en terselfdetyd snoesig sag, vol detail en ragfyn. 'n Ou liedjie van lank gelede bly oor en oor in my kop maal (ek weet nie eers hoe ek al die woorde ken nie?):
“Die mense wat ek lief het
kom groei op my soos mos
dan laat ek hul na hartelus gedy
en loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue –
die snoesigheid van self:
ek met my moskombersie”


Met die wete dat ek nie naby aan my ma kan wees hierdie moedersdag nie herinner die mos en die liedjie my so aan haar. Sy is my hart se moskombersie, met baie liefde oor die jare aanmekaar geweef. Dit maak die bos 'n mooier plek. Dit bedek alles. Altyd daar. Altyd gereed om my te help, om te vertroos, om aan te moedig. 'n Geselsie met haar en ek het weer moed. Sy leer my van Jesus, diensbaarheid en godsvrees. Sy herinner my kort-kort aan die noue weg en my identiteit in die Here. Sy leef 'n voorbeeld van vrouwees na aan die Vader se hart.

Queenstown is koud, sommige dae lê die sneeu reeds dik op die berge en dis nou eers herfs! Die koue kom soms nie van die snerpende wind af nie, maar verlange, bekommernis of teleurstelling. Dan verlang my hart eers na my moskombersie, dit maak nie saak hoe oud ek raak nie, dit maak nie saak hoe gereeld ons mekaar sien nie, ek sal haar altyd nodig kry. En hoe ouer ek raak hoe meer sien ek stukkies van haar in my, die moskombersie groei in my hart en word deel van my karakter en dit maak my ongelooflik dankbaar.

Dekades se wetenskaplike en sielkundige navorsing het bewys dat 'n moeder se liefde en omgee 'n enorme en permanente impak op die karakter en lewe van haar kind het. Tog is dit nie eintlik dit wat sy vir haar kind doen wat tel nie, maar die liefde en omgee in die wyse wat sy dit doen wat die vermoë het om 'n onwrikbare emosionele konneksie te vorm. Die kyk reguit in haar kind se oë in, wat sê 'ek sien jou raak', 'jy is vir my spesiaal', 'jy is vir my mooi'. Die manier wat sy haar kind teen haar bors vas druk met liefde of troos. Die spoegies wat sy saam met die pleister op die seer toon plak. Die sagte en aanhoudende aanmoediging. En ek glo vas, die gebede wat sy daagliks saggies in haar binnekamer namens haar kind by Jesus se voete lê. Volgens sielkundige teorieë vorm hierdie verhouding (met eerste primêre versorger) dan die bloudruk vir al die kind se daaropvolgende verhoudings. Ja, mamma’s is vir so 'n spesiale taak uitverkies!
Aan my ma, en al die ma’s daar buite, julle doen 'n uitstekende werk. Ons sê dit nie genoeg nie, maar ons waardeer julle meer as wat ons kan verduidelik. Mei maand is volgens my sommer Moedersmaand, en al kan meeste van ons nie in vlees by ons moeders wees nie, is daai moskombersieliefde vir altyd by ons.

Ek en my ma op 'n staproete wat ons nog in die mooie Suid-Afrika gedoen het.
Comments