Elders: 'n Naam vir my reis
- Lelanie Jordaan
- Mar 28, 2020
- 2 min read
Bedoelende jy is êrens anders, al is dit naby of baie ver. Jy is op ’n ander plek. Nie hier nie. Nie by my nie. Ons is nie bymekaar nie.
Vandat ek en Evert na Nieu-Seeland verhuis het sit hierdie woord in my kop vas. Dit bring soveel gedagtes by my op. Dit laat my verlang na Suid-Afrika, my geliefde sonskynland wat ook nou elders is. Ek kry ’n knop in my keel as ek dink aan my geliefdes, elders besig met hulle lewe waarby ek nou slegs indirek betrokke is.
Dit laat my droom oor vreemde plekke. Ek raak so nostalgies oor al die verskillende mense, kulture en tradisies reg oor die wêreld. Dit herinner my dat daar miljoene ander mense is wat op hierdie oomblik, elkeen op sy eie stukkie aarde, besig is met sy eie storie. Watokal dit mag wees. Hulle is elders besig met hulle eie lewe.
Dis ’n woord wat my baie opgewonde maak. Dit laat my dagdroom oor al die plekke waarheen ek nog graag wil reis. Lugkastele word gebou oor die wonderskoon van hierdie wêreld. Natuurtonele, landskappe, watervalle, wolke, berge en bome. ’n Wonderlike dag op die strand of ’n aand onder die helder sterrehemel. Argitektuur, antieke geboue en kuns, standbeelde en parke, konserte of partytjies.
Dit herinner my ook aan die Hemel. Wat elders is. Ons weet nie presies waar nie, en ons kan droom daaroor, oplees en op verbeeldingsvlugte gaan, maar ons kan nie met ons menslike verstand indink hoe wonderlik dit werklik daar gaan wees nie. ’n Stad wat deur God self ontwerp en gebou is (Hebreërs 11:10). Want nou kyk ons nog in ’n dowwe spiëel en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos wat dit werklik is. Nou ken ons net gedeeltelik, maar eendag sal ons ten volle ken net soos God ons ten volle ken (1 Korintiërs 13:12).
Hoe absoluut fantasties gaan dit wees, om nie meer elders te wees nie. Om by God te wees. Om bymekaar te wees. En op die mooiste, wonderbaarste plek nog ooit bekend aan die mens, ons ewige tuiste.
’n Groot menigte van elke nasie, stam, volk en taal wat saam, in prys en aanbidding voor die troon sal staan (Openbaring 7:9).

Ben Lomond Summit, #Queenstown
Comments